Die verhoog is gereed vir ’n nuwe kragmeting in die Suid-Afrikaanse skaapbedryf. Lamb Champs het vandag die Baa-Barians aangekondig, ’n spesiaal saamgestelde span skaapboere wat op 31 Oktober teen Span Suid-Afrika in die eerste Lamb Champs Invitational in Pretoria gaan meeding.
Die aankondiging volg op Namibië se onttrekking aan die kompetisie weens die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in dié land. Hoewel die onttrekking ’n teleurstelling was, het dit die deur oopgemaak vir ’n nuwe formaat waarin van Suid-Afrika se beste skaapboere mekaar die stryd gaan aansê.
Daar is boonop nóg ’n groot aankondiging: Zoetis het ’n kontantprys van R100 000 beskikbaar gestel vir die individuele boer wat die hoogste puntetelling tydens die kompetisie behaal. Die nuwe toekenning sal as die Zoetis Top Lamb bekendstaan.
Francois Rossouw, HUB van Saai, sê die twee aankondigings gee die Invitational ’n nuwe dimensie. “Ons moes vinnig aanpas toe Namibië onttrek het, maar ons wou nie bloot ’n plaasvervanger vir die Namibiese span vind nie. Ons wou ’n span saamstel wat die Suid-Afrikaanse span werklik kan uitdaag. Die Baa-Barians is nie hier om getalle vol te maak nie. Hulle is hier om te wen.”
Die Baa-Barians bestaan uit tien boere uit verskillende dele van Suid-Afrika, met uiteenlopende skaaprasse, boerdery-agtergronde en produksieomgewings.
Die span bestaan uit:
1. Pienaar van Niekerk – Dohne Merino, Burgersdorp, Oos-Kaap
2. Ancois Potgieter – Merino, Tweeling, Vrystaat
3. Michael Smuts – Dormer, Moorreesburg, Wes-Kaap
4. Trudine Leonard – SA Vleismerino, Kroonstad
5. Willie Bruwer – Dormer- en Merinokruising, Loxton, Noord-Kaap
6. Wian Swart – Suffolk, Amersfoort, Mpumalanga
7. Jaco Muller – Vleismerino- en Rooi Persiekruising, Frankfort, Vrystaat
8. Tshitise Mosiane – Dohne Merino, Warden, Vrystaat
9. JP Nel – Dorper, Vryburg, Noordwes
10. Anton Nel – Meatmaster, Somerset-Oos, Oos-Kaap (spankaptein)
Die Baa-Barians sal teen Span Suid-Afrika, onder kapteinskap van Gawie van Heerden, meeding.
Span Suid-Afrika bestaan uit:
1. Hennie Jonker – Hampshire Down, Kroonstad
2. Gerhard Lourens – Persie, Pretoria, Gauteng
3. Daan Malan – Dormer, Bethal, Mpumalanga
4. Paul van Rooyen – Meatmaster, Rouxville
5. Janri Brits – Merino, Winburg, Vrystaat
6. P.K. Uys – Dormer, Robertson, Wes-Kaap
7. Kyla Wasserman – Dohne Merino, Albertinia
8. Henfred Linde – Konsortium Merino, Cradock, Oos-Kaap
9. Johan Greyling – Konsortium Merino, Christiana
10. Philip Randell – Konsortium Merino
Rossouw sê die samestelling van die twee spanne beloof ’n interessante kompetisie. “Ons het nou ’n situasie waar boere wat normaalweg op dieselfde verhoog teen mekaar sou meeding, skielik spanmaats word. Aan die ander kant staan die Baa-Barians, wat niks het om te verloor nie en alles het om te bewys. Dit skep presies die soort wedywering wat ons met die Invitational wil vestig.”
Benewens die spankompetisie sal elke deelnemer ook vir die nuwe Zoetis Top Lamb-toekenning meeding. Rossouw sê Zoetis se betrokkenheid onderstreep die waarde wat die landboubedryf in platforms soos Lamb Champs sien. “Die sukses van ’n skaapboerdery begin lank voordat ’n lam op die spit beland. Dieregesondheid, genetika, voeding en goeie boerderypraktyke speel alles ’n rol in die uiteindelike produk. Daarom is dit besonder gepas dat ’n maatskappy soos Zoetis die uitnemendheid van ons boere op hierdie manier erken en beloon.”
Die Invitational is die volgende stap in die ontwikkeling van Lamb Champs, wat sedert sy ontstaan gegroei het tot ’n platform waar familieboere hul produkte direk aan verbruikers kan bekendstel.
Anders as die bestaande streekskompetisies word die Invitational as ’n vermaakgedrewe landboukompetisie aangebied wat spesifiek vir ’n gehoor by die geleentheid én digitale uitsendings ontwikkel is.
Die geleentheid sal regstreeks oor verskeie media- en verspreidingsvennote uitgesaai word, met ’n gesamentlike potensiële bereik van meer as 1,5 miljoen kykers. Die uitsaaivennote sluit onder meer Veeplaas, Maroela Media, Pretoria FM, Farmer’s Weekly, Farmspace, Boermedia en Lamb Champs in.
Rossouw sê die groter bereik is van besondere belang vir die boere wat deelneem. Hoewel vanjaar se kompetisie noodgedwonge ’n Suid-Afrikaanse kragmeting geword het, bly internasionale uitbreiding deel van Lamb Champs se toekomsplanne. Die organiseerders beplan om in 2027 spanne uit twee ander lande by die Invitational te betrek.
“Die Baa-Barians is ’n nuwe hoofstuk in die Lamb Champs-verhaal, maar die groter doelwit bly dieselfde: om ’n internasionale platform te bou waarop familieboere hul produkte kan vertoon en waar verbruikers op ’n heel nuwe manier by landbou betrokke raak.”
Lamb Champs bied vanjaar ook aan ondernemings ’n nuwe geleentheid om direk by die kompetisie betrokke te raak. Vanaf 9 tot 20 Oktober 2026 sal ’n aanlyn veiling deur SwiftVEE aangebied word waar ondernemings kan bie vir die eksklusiewe borgskapregte van individuele Baa-Barians-boere.
Die suksesvolle bieër se onderneming sal handelsmerkblootstelling ontvang deur onder meer sy logo op die betrokke boer se kompetisiehemp, ’n advertensie tydens die boer se kompetisieronde op die regstreekse uitsending, erkenning deur die kommentatorspan en bykomende blootstelling waar die boer op sosiale en ander media verskyn.
Dit bied ondernemings die geleentheid om hul handelsmerke direk met individuele boere te verbind en deel te word van die eerste Lamb Champs Invitational.
Ondernemings wat aan die veiling wil deelneem, kan die volgende skakel volg:
Die Lamb Champs Invitational vind op 31 Oktober 2026 by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria plaas en word met trots geborg deur Pick n Pay, Toyota, ZARbet, Afriskuld, Zoetis, Werkie en Titan Secure.
Kaartjies vir die geleentheid is beperk.
Koop kaartjies hier: https://bit.ly/LCInvitational\

