Gerhard en Jani Lourens van LGL Farming Co in Gauteng is as die wenners van Lamb Champs Pretoria 2026 gekroon met hul Persiese lam, ná ’n strawwe kompetisie waaraan 110 skaapboere van regoor Suid-Afrika deelgeneem het.
Meer as 6 000 besoekers het by Harlequins Rugbyklub saamgetrek vir die vlagskipgeleentheid op die Lamb Champs-kalender, waar uitsonderlike lamsvleis, familieboerdery, lewendige vermaak en Suid-Afrika se ryk landbou-erfenis gevier is.
Die topvyf boere was:
Die deelnemende boere se lamsvleis is deur onafhanklike beoordelaars volgens streng kriteria geëvalueer, insluitend voorkoms, aroma, sagtheid, tekstuur, sappigheid, mondgevoel en die algehele eetervaring.
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, het die wenners en al die deelnemende boere gelukgewens. “Lamb Champs gee familieboere die geleentheid om in die kollig te staan en die uitsonderlike gehalte van hul produkte ten toon te stel. Elke boer wat deelgeneem het, het tot die sukses van die geleentheid bygedra en gehelp om verbruikers ’n beter begrip te gee van die vaardigheid, toewyding en sorg agter die lamsvleis op hul borde,” het Rossouw gesê.
Die geleentheid het gevolg op die aankondiging van die eerste Lamb Champs Invitational, wat op 31 Oktober 2026 in Pretoria aangebied sal word. Die internasionale kompetisie sal sien hoe ’n span van tien Suid-Afrikaanse boere kop-aan-kop teen tien Namibiese boere meeding.
Hennie Jonker, die nasionale Lamb Champs-wenner van 2025, het die eerste plek gekry in die Suid-Afrikaanse span en Gawie van Heerden is as spankaptein aangewys. Die top twee boere van Lamb Champs Pretoria, Bloemfontein en Boland sal vir die span kwalifiseer, saam met Hennie Jonker en drie kapteinskeuses.
“Die Invitational is die volgende groot hoofstuk in die Lamb Champs-verhaal,” het Rossouw gesê. “Ons wil ’n internasionale verhoog skep waar boere as nasionale verteenwoordigers erken word en waar landbou-uitnemendheid, koskultuur en nasionale trots saamkom. Wanneer Suid-Afrika teen Namibië te staan kom, sal dit nie net gaan oor watter boer die beste lam produseer nie, maar oor watter land die trofee huis toe neem.”
Lamb Champs Pretoria het ook prominente gaste uit die landbou-, politieke en diplomatieke gemeenskappe verwelkom, onder wie die Suid-Afrikaanse minister van landbou, Willie Aucamp, en die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III.
Besoekers is deur die dag vermaak deur Juan Boucher, Demi Lee Moore, Jakkals Vibes, Henru & Schwabie en WEST, terwyl gesinne lamsvleisproeë, uitstallings, kompetisies en verskeie ander aktiwiteite kon geniet.
Lamb Champs is trots geborg deur Pick n Pay en bied Lamb Champs vleis in al hulle korporatiewe winkels nasionaal aan asook onlangs ‘n spesiale Lamb Champs klerereeks in Pick n Pay Clothing winkels.
Pretoria 2026 is moontlik gemaak deur die ondersteuning van sy gewaardeerde vennote, waaronder Pick n Pay, Toyota, ZarBet, Zoetis, Buffelsfontein en Castle Lager.
Die volgende geleentheid in die nasionale reeks, Lamb Champs Bloemfontein, vind op 29 Augustus 2026 by Toyota-stadion in Bloemfontein plaas.
**Fotos aangeheg:
Wenners: Van links: Iné Bester operasionele bestuurder Saai, Jani Lourens, Gerhard Lourens, Minki van der Westhuizen, Tessa Chamberlain hoof van strategiese vennootskappe Pick n Pay
3de plek: Iné Bester operasionele bestuurder Saai, Jaco Muller, Minki van der Westhuizen, Tessa Chamberlain hoof van strategiese vennootskappe Pick n Pay

